{"id":18559,"date":"2023-05-08T16:39:46","date_gmt":"2023-05-08T14:39:46","guid":{"rendered":"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/?p=18559"},"modified":"2023-05-08T16:39:53","modified_gmt":"2023-05-08T14:39:53","slug":"allegaarkie-vir-n-askeet-neil-sandilands-2","status":"publish","type":"post","link":"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/blog\/2023\/05\/08\/allegaarkie-vir-n-askeet-neil-sandilands-2\/","title":{"rendered":"\u201cAllegaarkie vir \u2019n Askeet\u201d \u2013 Neil Sandilands"},"content":{"rendered":"<div class=\"wp-block-image\">\n<figure class=\"aligncenter size-full\"><a href=\"https:\/\/i0.wp.com\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-content\/uploads\/2023\/05\/Neil-Sandilands-Album-Omslag.jpg?ssl=1\"><img data-recalc-dims=\"1\" loading=\"lazy\" decoding=\"async\" width=\"450\" height=\"449\" src=\"https:\/\/i0.wp.com\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-content\/uploads\/2023\/05\/Neil-Sandilands-Album-Omslag.jpg?resize=450%2C449&#038;ssl=1\" alt=\"\" class=\"wp-image-18556\" srcset=\"https:\/\/i0.wp.com\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-content\/uploads\/2023\/05\/Neil-Sandilands-Album-Omslag.jpg?w=450&amp;ssl=1 450w, https:\/\/i0.wp.com\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-content\/uploads\/2023\/05\/Neil-Sandilands-Album-Omslag.jpg?resize=300%2C300&amp;ssl=1 300w, https:\/\/i0.wp.com\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-content\/uploads\/2023\/05\/Neil-Sandilands-Album-Omslag.jpg?resize=150%2C150&amp;ssl=1 150w\" sizes=\"auto, (max-width: 450px) 100vw, 450px\" \/><\/a><\/figure>\n<\/div>\n\n\n<p>Voor u kapsie maak, die doelbewuste spelling van \u201cAllegaarkie\u201d pleks van \u201cAllegaartjie\u201d in die albumtitel \u201cAllegaarkie vir \u2019n Askeet\u201d het bloot te make met die \u201cA\u201d en \u201ck\u201d wat in di\u00e9 hernude spelling voorkom. Juistemit. Dit gee vir jou \u2019n visuele \u201cA k\u201d in beide woorde. Dit is ook my 47ste jaar om die son. Di\u00e9 aanbod is my tweede vollengte album binne twee jaar. Dus die herhaling. AK47. Interpreteer dit nes jy goeddink. Dis immers \u2019n album &#8211; \u2019n kreatiewe aanbod dan &#8211; nie \u2019n speltoets nie. Sou dit puriste en\/of fundamentaliste warm maak onder die kraag, is ons op die regte plek. Kom sit aan\u2019t tafel. Die bediening is beslis \u2019n bietjie van alles.<\/p>\n\n\n\n<p>Hoekom maak mens \u2019n album? Di\u00e9 vraag het my grysstof lang ure van dink, herbedink, dekonstruksie en selfondersoek besorg. Dit was nie altyd lekker of selftevrede nie. Ek is self nie seker watse kennis die distilleringsproses in die beker geskink het nie. Myns insiens, is dit uiteraard \u2019n eksistensi\u00eble kwessie. Dit het te make met \u201choekom de hel is ek hier?\u201d- tipe vrae. Miskien is dit soos \u2019n swart-en-wit enkelfoto uit toeka se dae. Die fotograaf het ver paaie gery, die afwagting vir die man met die magiese tegnologie was groot, die voorbereiding het lank gevat, die mense moes verwonderd stil sit en in \u2019n oogwink, met \u2019n rookontploffing, is die kiekie gekiek. Dit het mettertyd bevestiging geword dat daardie oomblik, die betrokke mense, die haarstyle, die kleredrag wel daar was. Min of meer net s\u00f3. Artefak. Geskiedenis.<\/p>\n\n\n\n<p>Musiek was \u2019n liefde lank voor ek vertolkingskuns (acting) aangeleer het. Ek was bitter klein so mens praat van \u2019n jaar of wat, miskien selfs minder. Dit was moontlik die eerste vreugde in abstraksie wat ek as mens kon beleef. \u201cActing\u201d, vermoed ek, het ontwikkel uit oorlewingsdrang en as beskermingsmeganisme; maar die suiwer vreugde van bestaan het beslis heel eerste in musiek registreer. In die lyf. In die hart. Miskien juis vanwe\u00eb hierdie \u201cliefde\u201d is dit verstaanbaar dat dit my omtrent \u2019n halwe leeftyd, tot hier in my middeljare, gevat het om by die beoefening en aanbieding daarvan uit te kom. Die ontsag. Die eerwaarde. Dit beteken nie ek het nie baie jare daaroor gedink en heimlik vanaf die verste wand die gedagte, of droom, lewendig gehou nie.<\/p>\n\n\n\n<p>\u2019n Mens sou fout maak as jy dink daar kom \u2019n perfekte oomblik waar alle elemente saamvloei om die skeppingsproses pynloos te maak. Soos in \u201cnou het die perfekte oomblik aangebreek om gou-gou \u2019n album te maak\u201d. Dit gebeur nie; in elk geval nie met my nie. Dit is bietjie soos \u2019n swanger moeder. Mens kan jou bes doen om dinge in te rig om die geboorte te vergemaklik, maar die normale gang van sake hou nie op nie. Die patina van bestaan kleef. Net s\u00f3 het hierdie album gebeur. Tussenin. Tussen al die ander dinge. Mens skryf tussenin, komponeer soms by die lughawe of bushalte, redigeer en herskryf op pad iewers heen. Iewers kom die oomblik. Iewers word die kind gebore, word die kiekie gekiek. Iewers het jy veertien snitte oorweeg, mense bymekaar gebring, opnames gemaak en toe jy weer so kyk, is dit daar.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cAllegaarkie vir \u2019n Askeet\u201d het gebeur tussen my laaste vollengte aanbod \u201cSangoma Sandilands &amp; Jou Pa se Posse &#8211; Maanskyn\u201d (Mei 2021) en nou. Dit was Covid. Dit is steeds \u201cloadshedding\u201d, diefstal en korrupsie. Daar is steeds oorlog iewers. M\u00f4re staak die SAPD. Gedurende hierdie tyd het ek twee keer reg om die planeet gevlieg. Ek was meerendeels in \u2019n tipe selfopgelegde kwarantyn in Nieu Seeland en Australi\u00eb waar ek gewerk het aan \u201cSweet Tooth 2\u201d asook \u201cPlanet of The Apes\u201d. Ek was ook in Meksiko, Namibi\u00eb en die VSA besig met projekte. Die aanbod is dus \u2019n kiekie van myself ten tye van \u2019n reeks buitengewone belewenisse. Weet \u2018seblief dat ek totaal bewus is hoe uiters bevoorregd ek was om di\u00e9 avonture te kon h\u00ea. Die album is \u2019n poging om di\u00e9 gedagtegange van so \u2019n atomiese bestaan te distilleer tot wete. In kwellende tye. AK47.<\/p>\n\n\n\n<p>U sal vind daar\u2019s \u2019n baie wye kosmiese vangnet om die album. Die album is amper soos die planeet waarop ons woon, of die kosmos self. Daar is ook persoonlike, spesifieke, klein verwysings. Mens kan die vinger op Google Maps kry tot by die pad tussen De Rust en Willowmore. Omvangryk en nietig in dieselfde asem. Terselfdertyd weerloos en weerbaar. Dit verleen en gee krediet aan invloede soos CJ Langenhoven, NP Van Wyk Louw, Ingrid Jonker, Koos Kombuis, Anton Goosen, Bob Dylan, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Johnnie Cope &amp; Tennessee Whiskey. Daar\u2019s protes, odes, hartstog, twyfel, metafisika, geskiedenis, gatvolheid, behoud, verganklikheid, vriendskap en menswees. \u2019n Allegaartjie \u201ckie\u201d. Dis die mees inklusiewe, universele album wat ek moontlik kon maak en terselfdertyd \u2019n onmiskenbare aanvaarding van hoe my bakkies oor tyd vervorm het. Dit is vir man, vrou, kind en brak en dit s\u00eavra bloot: \u201cHier is ons nou. Wat nou?\u201d. Die waarheid ken ek nie, maar ek dink ek het lank genoeg geleef om \u2019n adder te ken as ek hom sien.<\/p>\n\n\n\n<p>Een mens maak nie sommer op eis \u2019n album nie. Daar is gewoonlik baie mense betrokke en die luisteraar sal uit die staanspoor hoor hier was heelwat betrokkenes. Albums soos di\u00e9 gebeur nie aldag in Afrikaans nie. Daar is snare, strykinstrumente, blaasinstrumente, klawers, dromme en tromme, \u2019n trompie, elektronika en selfs \u2019n saag! Dit beteken ook dat ek heelwat \u201cdankies\u201d verskuldig is.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Theo Crous, my vriend saam met wie ek ook die vorige album (Sangoma Sandilands &amp; Jou Pa se Posse &#8211; Maanskyn) en kortalbums (Die Groot 5 &amp; Die Groot Niks) aangepak het, jou menslikheid bowenal, is waarop die album gemaak is. Dankie dat jy bereid was om voorskrifte en apokriewe weg te smyt en toe te laat dat ons skeppend in die oomblik bly. Dankie vir jou humorsin, broer. Ons\u2019t die album gemaak sodat onse ore happy is, nie om \u2019n nimmerversadigende, eksploitiewe monster te dien nie. Ek gamble daarop dat luisteraars sal saamstem. Theo was onder meer verantwoordelik vir al die in-ateljee opnames en die klankvermenging.<\/p>\n\n\n\n<p>Dit is miskien nodig om hier te noem dat die onderneming om hierdie stuk werk te realiseer, soos met die voriges, onderwerp was aan faktore wat nie in die realm van normaliteit val nie. Theo se spesifieke klank het te make met analoog apparatus; hardeware. Ouskool. Hy plaas veral fokus op hoe die musikale inhoud opgeneem word. Theo se klankateljee het baie liggies, knoppies en goeters. Dis nie \u2019n laptop nie. Om die album te maak gedurende nimmereindigende beurtkrag was \u2019n helse ding. Party dae het ons vir mekaar sit en staar en\u00a0 gewonder of ons realiteit enigsins meer absurd kon raak? Mens lag dan maar deur die malheid. Sy gees en deursettingsvermo\u00eb is werklik prysenswaardig.<\/p>\n\n\n<div class=\"wp-block-image\">\n<figure class=\"aligncenter size-full\"><a href=\"https:\/\/i0.wp.com\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-content\/uploads\/2023\/05\/Neil-Sandilands-Krediet-Patrick-Toselli.jpg?ssl=1\"><img data-recalc-dims=\"1\" loading=\"lazy\" decoding=\"async\" width=\"400\" height=\"471\" src=\"https:\/\/i0.wp.com\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-content\/uploads\/2023\/05\/Neil-Sandilands-Krediet-Patrick-Toselli.jpg?resize=400%2C471&#038;ssl=1\" alt=\"\" class=\"wp-image-18557\" srcset=\"https:\/\/i0.wp.com\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-content\/uploads\/2023\/05\/Neil-Sandilands-Krediet-Patrick-Toselli.jpg?w=400&amp;ssl=1 400w, https:\/\/i0.wp.com\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-content\/uploads\/2023\/05\/Neil-Sandilands-Krediet-Patrick-Toselli.jpg?resize=255%2C300&amp;ssl=1 255w\" sizes=\"auto, (max-width: 400px) 100vw, 400px\" \/><\/a><figcaption class=\"wp-element-caption\">Neil Sandilands<br \/>(foto &#8211; Patrick Toselli)<\/figcaption><\/figure>\n<\/div>\n\n\n<p>Dit bring my by die verbysterende musikante. Van die opnames het in Bellville plaasgevind, maar daar was ook heelwat mense wat oor afstand deelgeneem het. Qadasi &amp; Maqhinga het vanaf KwaZulu-Natal opgeneem, Mauritz Lotz en Magda de Vries vanuit Johannesburg, Melissa van der Spuy iewers vanuit die Boland, Shannon Mowday vanuit Noorwe\u00eb. Aan al die musikante wat gehelp het om \u201cAllegaarkie vir \u2019n Askeet\u201d te vergestalt (en daar was vele): DANKIE! Ek hoop julle kan hoor dat die album juis gemaak is om jul talent te laat skitter en dat my stem en woorde met sensitiwiteit en oorweging deur Theo in die note gevleg is. Ek is baie trots op die musikaliteit van die album, ek hoop julle is ook. Ek lys julle name hier, in opregte admirasie:<\/p>\n\n\n\n<ul class=\"wp-block-list\">\n<li>Schalk Joubert (Baskitaar)<\/li>\n\n\n\n<li>Kevin Gibson (Dromme)<\/li>\n\n\n\n<li>Albert Frost (Elektriese &amp; Akoestiese Kitare)<\/li>\n\n\n\n<li>Mauritz Lotz (Elektriese &amp; Akoestiese Kitare)<\/li>\n\n\n\n<li>Melissa van der Spuy (Klawers)<\/li>\n\n\n\n<li>Shannon Mowday (Saksofoon)<\/li>\n\n\n\n<li>Jacques du Plessis (Saag &amp; Skootstaalkitaar)<\/li>\n\n\n\n<li>Louis Mhlanga (Elektriese Kitaar)<\/li>\n\n\n\n<li>Qadasi &amp; Maqhinga (Zulu Konsertina &amp; Stemme)<\/li>\n\n\n\n<li>Dave Ferguson (Trompie)<\/li>\n\n\n\n<li>Robin Auld (Bekfluitjie)<\/li>\n\n\n\n<li>Magda de Vries (Marimba)<\/li>\n\n\n\n<li>Lelethu Zulu &amp; Sibongiseni Wani (Xhosa Stemme)<\/li>\n\n\n\n<li>Ronan Skillen (Perkussie)<\/li>\n\n\n\n<li>Willy Haubrich &amp; Lee Thompson (Blaasinstrumente)<\/li>\n\n\n\n<li>Hanna de Wet (Stem)<\/li>\n\n\n\n<li>Gian Groen (Stem)<\/li>\n\n\n\n<li>Tarryn Lamb (Stem)<\/li>\n\n\n\n<li>Nicolize Killian (Agtergrondstem)<\/li>\n\n\n\n<li>Mari Nieuwoudt (Agtergrondstem)<\/li>\n\n\n\n<li>Theo Crous (Elektroklanke)<\/li>\n\n\n\n<li>Carina Bruwer (Fluit)<\/li>\n\n\n\n<li>Wynand Davel (Viool)<\/li>\n<\/ul>\n\n\n\n<p>Mannekoor: Neil van Deventer, Ruan Kotz\u00e9, Lionel Smit, Conrad Jamneck, Francois Rautenbach, Pedro Camara, Jono Tait, Theo Crous, Ryno Velvet, Hannes Visser<\/p>\n\n\n\n<p>Nog is dit het einde niet. Daar\u2019s nog mense: Andr\u00e9 Badenhorst vir jou fotografie van die album ikonografie. Rouleaux van der Merwe vir jou grafiese ontwerp. Rogan Kelsey vir die meestersnitte. Kobie Koen &amp; span van Vonk Musiek vir die digitale inname en verspreiding. Alishia van Deventer &amp; span van Starburst Promosies vir die bemarking en publisiteit. Bes moontlik is daar iemand wie ek uitlaat of vergeet; glo my dis nie aspris nie.<\/p>\n\n\n\n<p>Laastens sou ek graag spesiale dank wou gee aan Mari Nieuwoudt vir jarelange vriendskap, geloof en ondersteuning. Jy\u2019s \u2019n juweel. Dan ook aan Tarryn Lamb, Gian Groen, Qadasi &amp; Maqhinga, Hanna de Wet, Lelethu Zulu &amp; Sibongiseni Wani vir die verlening van jul stemme op hierdie album. Dit maak die aanbod ryker! Aan Anton Goosen, Mari Nieuwoudt, Deon Maas, Louis de Villiers en Koos Kombuis, dankie vir die luister en advies. Dit is kompleet.<\/p>\n\n\n\n<p>Hierdie album word opgedra aan die land en al haar mense en een mens in spesifiek, Ninnie. Jy is \u2019n vrou, moeder en vriend wat die rein gebaar l\u00e9\u00e9f!<\/p>\n\n\n\n<p>Kry dit hier: <a href=\"https:\/\/linktr.ee\/neilsandilands\" target=\"_blank\" rel=\"noreferrer noopener\"><u>https:\/\/linktr.ee\/neilsandilands<\/u><\/a><\/p>\n","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>Voor u kapsie maak, die doelbewuste spelling van \u201cAllegaarkie\u201d pleks van \u201cAllegaartjie\u201d in die albumtitel \u201cAllegaarkie vir \u2019n Askeet\u201d het bloot te make met die \u201cA\u201d en \u201ck\u201d wat in di\u00e9 hernude spelling voorkom. Juistemit. Dit gee vir jou \u2019n visuele \u201cA k\u201d in beide woorde. Dit is ook my 47ste jaar om die son.&hellip; <a class=\"more-link\" href=\"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/blog\/2023\/05\/08\/allegaarkie-vir-n-askeet-neil-sandilands-2\/\">Continue reading <span class=\"screen-reader-text\">\u201cAllegaarkie vir \u2019n Askeet\u201d \u2013 Neil Sandilands<\/span><\/a><\/p>\n","protected":false},"author":1,"featured_media":0,"comment_status":"closed","ping_status":"closed","sticky":false,"template":"","format":"standard","meta":{"_jetpack_memberships_contains_paid_content":false,"footnotes":""},"categories":[159],"tags":[],"class_list":["post-18559","post","type-post","status-publish","format-standard","hentry","category-music","entry"],"jetpack_featured_media_url":"","jetpack_sharing_enabled":true,"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/18559","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-json\/wp\/v2\/posts"}],"about":[{"href":"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-json\/wp\/v2\/types\/post"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-json\/wp\/v2\/users\/1"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=18559"}],"version-history":[{"count":0,"href":"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/18559\/revisions"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=18559"}],"wp:term":[{"taxonomy":"category","embeddable":true,"href":"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-json\/wp\/v2\/categories?post=18559"},{"taxonomy":"post_tag","embeddable":true,"href":"https:\/\/www.samdb.co.za\/blogs\/wp-json\/wp\/v2\/tags?post=18559"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}