Kerry B Deel ’N Boodskap Van Hoop En Genesing In Emosiebelaaide Enkelsnit

Die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Kerry B, het pas ’n nuwe enkelsnit en musiekvideo vrygestel wat beslis ’n groot indruk op die musiekbedryf gaan maak.

DID IT MEAN NOTHING? is ’n snit oor pyn en frustrasie, maar ook van hoop, aangesien dit luisteraars aanmoedig om aan te beweeg na groter en beter dinge en om nie toelaat dat klein dingetjies hulle onderkry nie.

Hierdie liedjie is geïnspireer deur die kunstenaar se eie ervaring en sy misbruik is toe sy probeer het om iemand te help.

Ek het besef dat sommige mense nie gehelp wil word nie en dat jy hulle moet laat gaan om jouself en jou emosionele welstand te beskerm,” verduidelik sy.

Dié opgewekte popsnit kom uit haar eie pen en sal luisteraars laat lus voel om te dans en inspireer omdat dit so ’n kragtige en positiewe boodskap het.

Ek het hierdie lied in ’n baie moeilike tyd van my lewe geskryf,” sê die sangeres. “Dit het my gehelp om anders te dink oor dinge en om nie moed op te gee wanneer dinge moeilike raak nie. Ek glo dat luisteraars by die boodskap sal aanklank vind en die polsende ritme sal geniet.”

Tot dusver het Kerry B ’n 10-snit-album, The Tree Singer, vrygestel, wat haar reis van selfontdekking in tien inspirerende liedjies dokumenteer, insluitend I’m never going back, In the wars, and Unconditional love.

Hoewel dit goed ontvang is, voel sy dat sy nou eers besig is om haar ware klank te vind en is sy baie opgewonde oor die rigting waarin haar musiek beweeg.

’n Musiekvideo van hierdie inspirerende lied is in ’n kamer in haar huis verfilm deur Gerduan Kemp van Gerduan Kemp Photo & Film, wat ook die regisseur van dié produksie was.

Die video simboliseer die verloop van die lewe, met die kunstenaar wat in wit geklee is aan die begin en deur verskillende stadiums van emosie gaan, net om uiteindelik te transformeer in ’n kryger wat innerlike krag en deursettingsvermoë verteenwoordig.

Hierdie video was so lekker om te maak,” sê Kerry B. “Dit was ’n lange dag, maar dit was die mees bevredigende werk wat ek ooit gedoen het. Ek glo die vreugde wat ons almal op daardie dag beleef het, sal op skerm weerspieël word.”

Kerry is in Krugersdorp gebore, waarna haar gesin na Kwazulu-Natal en later na Gauteng verhuis het.

Musiek was nog altyd een van die enigste konstante dinge in haar lewe. Omdat sy ’n sensitiewe kind was, is sy egter afgeraai om haar tyd daarop te spandeer. Daarom het sy eers later in haar lewe met musieklesse – klavier, stemopleiding en teorie – begin.

Sy het formele musiekopleiding gedoen by Trevor M Smith en in 2018 haar honneursgraad in musiek verwerf. Verder het sy ook stemopleiding by Kgololo Mogotsi gekry en haar graad 7-sangkwalifikasie met meriete geslaag. Laastens het sy ook in 2021 ’n liedjieskrywerskursus, onder leiding van Jolanda Becker, voltooi.

Haar talent is toevallig ontdek toe iemand haar tussen die bome hoor sing en haar oorreed het om haar stem met die wêreld te deel.

Kerry het na haar studies haar eie deeltyds musieklesse aangebied, wat sy in 2017 moes staak toe haar man na Dar es Salaam in Tanzanië verplaas is. Nadat hulle teruggekeer het Suid-Afrika toe, het sy voltyds begin klas gee.

Vir dié kunstenaar is die hoogtepunt van haar loopbaan sover – buiten vir die vrystelling van haar debuut-album natuurlike – die geleentheid om te doen waarvoor sy lief is en erkenning daarvoor te kry.

Die musikant beskryf haar musiek as uniek en put inspirasie uit die dinge wat haar gelukkig maak. Sy erken ook dat skryf ’n genesende effek op haar het – en dat sy al baie hartseer en probleme daarmee oorkom het.

Iets wat min mense van haar weet, is dat sy aan sinestesie ly, ’n neurologiese toestand wat veroorsaak dat mense ongewone sintuiglike waarnemings het soos om kleur as ’n geluid te ervaar. In haar geval, kan sy musiek sien.

In 2023, beplan die sanger om te reis en is daar ’n troue in Fidji en moontlike toer na die VSA, Mauritius en die Verenigde Koninkryke op die kaarte. Sy wil ook graag nog twee enkelsnitte uitreik.

DID IT MEAN NOTHING? is ’n opbouende liedjie, met ’n inspirerende boodskap, wat jou sal bybly lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.

Dit is nou beskikbaar op alle groot stromingsplatforms.

Laai dit hier af: https://linktr.ee/kerrybmusicstudios

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb