Deidré Barnarnd Se Musiekvideo Vir Beskerm Jou Hart Is Hier

Deidré Barnard het onlangs haar enkelsnit, BESKERM JOU HART, vrygestel en dit pronk reeds op trefferparades landswyd. Die musiekvideo vir die pragtige snit is nou ook beskikbaar.

Die video is in Pretoria geskiet, die regie is deur Révan Luüs, Maree van den Berg en Eon van Zijl behartig en dit is deur Johan Vorster en Jacomien de Wet van Inhoud Huis Musiek vervaardig.

Ek en Révan Luüs het met die konsep opgekom. Ons het rondgespeel met die liedjie se titel en die belangrikheid daarvan om jou identiteit te beskerm, subtiel, maar tog treffend deur die video uitgebeeld. Een voorbeeld is die gebruik van “danger tape” in die video wat gewoonlik gebruik word om ’n stukkende area in ’n gebou af te skort. Ons het dit gebruik om ’n massiewe hart mee te bou en ek het daarin gestaan en die liedjie gesing om uit te beeld hoe tasbaar ’n mens se hart werklik is en dat dit beskerm moet word. Nog ’n voorbeeld wat gebruik word in die video is die hartjieplakkers wat geplak word op die goed wat jou in jou alledaagse lewe veilig hou, sonder dat jy dit eers agterkom, soos die verkeerslig, die spieëltjie in die parkeerarea ensovoorts,” verduidelik Deidré.

Dis vir my regtig spesiaal, want die boodskap agter die liedjie en die video lê my baie na aan die hart en ek voel my persoonlikheid en wie ek beoog om te wees word baie mooi in die video uitgebeeld,” voeg sy by.

Deidré het naam gemaak in die musiekbedryf onder die leiding van Dewald Wasserfall tydens die eerste seisoen van die gewilde realiteitsreeks, Die Kontrak, waarin sy derde geëindig het.

BESKERM JOU HART is ’n pragtige popsnit met ’n moderne aanslag, wat gaan oor die belangrikheid daarvan om nie jouself te verloor in die seerkry van die lewe nie en is geïnspireer deur Spreuke 4:23.

Om betekenisvolle musiek, met ’n sterk boodskap, te skryf en sing is vir haar baie belangrik. Daarom vind sy aanklank by musikante soos Taylor Swift, Bernice West, Refentse, Riana Nell, Elandré en Chris Stapleton saam met wie sy nog almal sal wil werk in die toekoms.

Sy verklap dat graag ’n blommeplaas sou wou hê, met ’n restaurant op die perseel waar mense kan eet en die natuurskoon geniet, en dat sy ook eendag graag ’n boek sou wou skryf.

Haar planne vir 2023 sluit in om ’n kortspeelplaat uit te bring en haar musiekskool te vestig. Sy is ook betrokke by die musiekblyspel, Die Kaplyn, en hoop om soveel as moontlik vertonings te doen.

BESKERM JOU HART is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://deidrebarnard.lnk.to/BeskermJouHart

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb