Fouché Wessels Verwesenlik ’N Groot Droom Met Debuut-Enkelsnit, “Hier By My”

Na jare se droom en harde werk, maak die begaafde sanger en liedjieskrywer van Pretoria, Fouché Wessels, uiteindelik sy amptelike buiging in die musiekbedryf met sy debuut-enkelsnit en -musiekvideo, HIER BY MY.

Die saadjie vir dié betekenisvolle popsnit is eintlik reeds in 2014 geplant, maar die liedjie het eers behoorlik vorm aangeneem na die eerste kerkdiens wat hy in 2020 saam met sy vriende bygewoon het toe die inperkingsmaatreëls verslap is.

Op pad huis toe na die kerkdiens, het die woorde: ‘As jou hart na iets verlang, kan net dit jou hart genees’ in my kop bly vassteek. Die mense van die PUK het so ’n groot invloed op my lewe gehad, dat ek nie anders kon as om ’n liedjie daaroor te skryf nie,” vertel die musikant.

Omdat hy eg wou wees aan homself en met luisteraars wou deel wie hy regtig is, was dit ’n maklike keuse toe hy moes besluit met watter liedjie, uit sy arsenaal van oorspronklike musiek, hy homself aan die publiek wou voorstel.

Met hierdie enkelsnit het ek my hart in ’n liedjie omgesit en ek voel dat ’n mens altyd eg aan jouself en jou oortuigings moet bly,” verduidelik hy. “Ek dink luisteraars sal daarvan hou omdat dit eenvoudig is en betekenis het, en ook omdat dit ’n lekker dansritme het.”

Rian Swanepoel was aan stuur van sake in die musiekateljee, terwyl Danie Pretorius en Rudi von Alleman verantwoordelik was vir die produksie van die musiekvideo wat ook nou beskikbaar is.

Dié liriekvideo is in Wessels se ouers se motorhuis verfilm en die doel was om dit so eenvoudig, maar kreatief as moontlik te hou.

Hy voeg by: “Omdat dit ’n liriekvideo is, wou ek graag hê dat die woorde vanself moes spreek. Ek dink dit is iets heeltemal anders, omdat daar min sulke video’s in vandag se tyd beskikbaar is.”

Fouché Wessels, is ’n gebore Pretorianer wie se lewe nog altyd om musiek gedraai het. Gedurende sy studentejare in Potchefstroom, het hy video’s van homself wat sing begin deel op sosiale media, in die hoop dat sy talent ontdek sou word. Sy optredes het stelselmatig begin toeneem en in 2020 het hy die geleentheid gekry om by die gewilde kuierplek, Texas, op te tree.

Oor die jare, was dié talentvolle sanger deel van verskeie opwindende musiekprojekte, waaronder Hoërskool Garsfontein se musiekblyspele en koor (van graad nege tot matriek), asook Veritas Manskoshuis se serenadegroep wat twee kampuskompetisies gewen het.

Die 26-jarige musikant sonder Jakkie Louw uit as sy grootste plaaslik rolmodel en het al die geleentheid gehad om voorvertonings vir dié plaaslike legende te doen. Hy het verder ook groot bewondering vir Ed Sheeran se liedjieskryfvernuf en vermoë om groot gehore te lok.

Wessels het ’n wye musieksmaak, wat strek van Zinkplaat tot Frank Sinatra, en put baie inspirasie uit die musiek en lirieke van Theuns Jordaan. Hy sal ook nog graag eendag saam met Jakkie Louw en Bobby van Jaarsveld wou werk.

As kunstenaar, is sy grootste uitdaging beslis om raakgesien te word in die bedryf, maar dit is nie waar dit ophou nie.

Ek sukkel al van kleins af met ’n sigprobleem, wat eers in graad 8 gediagnoseer is as optiese atrofie. Nietemin het ek nog nooit toegelaat dat dit my definieer nie, en het dit een van die grootste dryfvere agter my strewe na sukses geword.”

Geteken deur die alombekende Kosie van Niekerk van Platinum Musiek, het Fouché groot planne vir die toekoms om vir homself ’n stewige plek in die plaaslike musiekmark te vestig en met ’n unieke snit, soos HIER BY MY, is hy beslis op die regte pad.

Ek wil mense inspireer en hulle hoop gee, want ek weet hoe ek gevoel het elke keer as iemand my weer moed gegee het,” sluit hy af.

HIER BY MY is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: linktr.ee/fouche.wessels

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb