Nuwe Kyle September-Enkelsnit ’N Pleidooi Vir Eenheid En Genesing

Die sanger en liedjieskrywer, Kyle September, het pas sy langverwagte nuwe enkelsnit, ALL THE LOVE, uitgereik en dit is reeds besig om soos ’n veldbrand onder sy bewonderaars te versprei.

Hierdie pop-ballade, met sy betekenisvolle lirieke en lekkerluister wysie, poog om luisteraars te inspireer om liefde te gebruik om ons gebroke wêreld te genees.

ALL THE LOVE, uit die kunstenaar se eie pen, ondersoek bestaande kwessies van diskriminasie, vyandigheid en haat wat soveel konflik in die samelewing veroorsaak. Dié snit is geïnspireer deur die toenemende spanning van die afgelope jare en is ’n hartroerende pleidooi vir deernis en eenheid in ’n wêreld wat verskeur word deur verskille.

Hy verduidelik: “Oor die afgelope paar jaar het dit vir my gevoel asof die spanning in die wêreld, as gevolg van verskille in oortuigings, ’n kookpunt bereik het, met konflik aanlyn en in persoon. Oorloë word gevoer en mense sterf. Ek is hartseer en bekommerd hieroor, en ek wens dit alles kon net ophou, maar ek kon nie aan enige oplossings dink nie. Ek het baie vrae gehad, maar geen antwoorde nie. Al wat ek besef het, is dat ons al die liefde wat ons kan bymekaar kry nodig het om die hart van die mensdom te verander.”

Die tema en inspirerende boodskap van die liedjie gaan verseker baie harte raak en aanklank vind by oud en jonk.

Om dinge nog meer opwindend te maak, is ’n liriekvideo wat deur Rubber Duc se hoofsanger Nic Jordaan geskep is, ook nou beskikbaar en komplementeer dit die lied se kragtige boodskap.

Die video vang die aangrypende beelde van ’n wêreld sonder liefde vas en beklemtoon die dringende behoefte dat mense hulle manier van dink moet verander,” voeg hy by.

Kyle is al vir meer as ’n dekade in die musiekbedryf doenig en spog met ’n honneursgraad in BMus van Wits School of Arts.

ALL THE LOVE is die kunstenaar se sesde enkelsnit en volg in die voetspore van vorige treffers soos Sweetness, Analog Heart, Little Things, Cuddle Up en Daydream. Al hierdie snitte is goed ontvang, word nog gereeld oor die radio gehoor en gestroom, en verstewig daagliks sy posisie in die musiekbedryf.

Buiten vir sy musiekloopbaan en liefde vir sport, het hy ook onlangs sy eie besigheid, Takeover Entertainment, begin. Hierdie idee is gebore uit die vermaakkanaal wat hy begin het gedurende die Covid-19-pandemie en fokus op die reël van funksies en vertonings vir homself en ander opkomende talent.

Oor die jare, het hy verskeie loopbaanhoogtepunte gehad, insluitend sy optrede by Afriski, ’n openingsvertoning vir Francois van Coke by die Misty Waters-fees, en om saam met Graeme Watkins ’n aanlyn vertoning te hou gedurende grendeltyd.

Soos altyd, het die musikant baie planne vir die toekoms en wil hy graag saam met die land se beste DJ’s werk om hulle unieke klanke en style te kombineer om opwindende nuwe musiek te skep.

‘n Nuwe hoogtepunt vir Kyle sal wees om by Splashy Fen op te tree die jaar.

ALL THE LOVE is daarop gemik om gehore te betower en ’n positiewe verandering te inspireer. Dit wil luisteraars herinner dat liefde die krag het om teenspoed te oorkom en ’n beter toekoms te verseker.

Hierdie lied is vir my spesiaal omdat dit my hoop weergee vir ’n wêreld waarin ons almal vry is. Dis ’n pleidooi vir mense om hulle harte oop te maak, sodat ons dit kan bereik,” sluit hy af.

Dit is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatform. Laai dit hier af: https://smarturl.it/71s3x9

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb