Nuwe Kerry B-Enkelsnit Moedig Luisteraars Aan Om Positief Te Wees En Te Streef Na Sukses

Die sanger en liedjieskrywer, Kerry B, is bekend vir haar sielvolle musiek en haar nuutste enkelsnit, JEALOUS, gaan beslis haar plek in die plaaslike musiekbedryf verstewig.

Hierdie besonderse lied stel nie net haar skeppingstalent ten toon nie, maar nooi luisteraars ook saam op ’n reis van introspeksie en bemagtiging.

JEALOUS is ’n opgewekte dansliedjie wat jaloesie en die transformerende potensiaal van hierdie emosie ondersoek.

Omdat ek ’n baie empatiese mens is, is ek sensitief vir ander mense se gevoelens. Die probleem is dat jaloesie en haat vir my dieselfde voel,” verduidelik sy. “Die liedjie gaan oor my eie besef dat jaloesie nie noodwendig ’n slegte ding is nie. Dit is slegs ’n aanduiding dat jy iets wil hê waarvoor jy nog nie dapper genoeg was om te veg nie. Hierdie besef het my lewe verander.”

Volgens haar, is hierdie lied meer persoonlik as haar vorige vrystelling, omdat sy die woorde en konsep baie oordink het.

Die lied is gebore nadat ons na ’n slegte naweek by die huis gekom het en ek totaal verslaan gevoel het en deur my emosies wou werk. Ek het die lirieke verskeie kere oorgeskryf en in my eie ervaringe gedelf en vir myself moeilike vrae gevra. Elke woord is gelaai met wat ek gevoel het. Dit was ’n uitdagende, maar lonende ervaring.”

’n Musiekvideo van die liedjie sal in September 2023 beskikbaar wees.

Na die sukses van haar vorige enkelsnit, Did it mean nothing?, wat haar verwagtinge oortref het en as ’n goeie wegspringplek vir die sanger se loopbaan gedien het, is sy gretig om haar musikale reis op ’n positiewe noot voort te sit.

Buiten vir musiek is hierdie veelsydige vrou aktief betrokke by verskeie projekte. Sy dryf tans ’n herwinningsinisiatief aan en lei ’n skoonmaakprojek by TAG, haar man se maatskappy.

Daarbenewens hou sy toesig oor herstel- en opknappingswerk by die huis terwyl sy werk aan nuwe liedjies en soveel as moontlik probeer optree.

Sy het baie opwindende planne vir die res van die jaar, wat soveel as moontlik optredes en ’n spesiale wegbreek vir haar verjaardag en huweliksherdenkings insluit. Omdat sy wil aanhou groei as musikant en kunstenaar, beplan sy ook om haar klavier- en ukelele-vaardighede op te skerp, terwyl sy aktief besig is om haar ondersteuning op sosialemediaplatforms te vergroot.

Te midde van persoonlike uitdagings en onlangse familiedrama bly sy veerkragtig en optimisties en beklemtoon hoe belangrik dit is om te onthou dat almal net mense is: “Ons het almal hoogtepunte en laagtepunte, maak foute, en ervaar jaloesie. Maar laat ons dit noem wat dit is: vrees.”

Kerry is in Krugersdorp gebore, waarna haar gesin na KwaZulu-Natal en later na Gauteng verhuis het.

Musiek was nog altyd een van die enigste konstante dinge in haar lewe. Omdat sy ’n sensitiewe kind was, is sy egter afgeraai om haar tyd daarop te spandeer. Daarom het sy eers later in haar lewe met musieklesse – klavier, stemopleiding en teorie – begin.

Haar talent is toevallig ontdek toe iemand haar tussen die bome hoor sing en haar oorreed het om haar stem met die wêreld te deel.

Kerry het na haar studies haar eie deeltyds musieklesse aangebied, wat sy in 2017 moes staak toe haar man na Dar es Salaam in Tanzanië verplaas is. Nadat hulle teruggekeer het Suid-Afrika toe, het sy voltyds begin klas gee.

Soos wat sy aanhou groei as ’n kunstenaar, vind sy inspirasie in die dinge wat vir haar vreugde bring. Skryf, spesifiek, bring vir haar genesing wanneer sy deur ’n moeilike tyd gaan.

JEALOUS gaan beslis die musiekbedryf laat gons en is net weereens ’n bewys van die belowende toekoms en loopbaan wat op hierdie talentvolle ster wag.

Luisteraars sal die kombinasie van betekenisvolle lirieke en aansteeklike pop-wysie geniet en bemagtig voel om hulle drome te volg, ongeag van wat ander mense se opinies is.

Sy sluit af: “Almal het een of ander boelie in hulle lewens. Daar is altyd iemand wat wil hê jy moet misluk. Hierdie liedjie wil jou ophef en bemoedig om daardie negatiwiteit te oorkom en te streef na sukses.”

JEALOUS is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: distrokid.com/hyperfollow/kerryb/jealous


www.kerrybmusic.com

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb