Die oomblik waarna Arnold de Wet-ondersteuners al so lank uitsien, het uiteindelik aangebreek. Sy splinternuwe lofprysings- en aanbiddingsalbum, EIGHT28, is nou beskikbaar en beloof om elkeen wat daarna luister diep te raak.
EIGHT28, wat verwys na Romeine 8:28, word uitgegee onder die vaandel van Inhoud Huis Musiek se aanbiddingsplatform, The Shelter, en is die gesamentlike handewerk van Arnold, Johan Vorster en Jacomien de Wet.
“Die titelsnit gaan oor die deel in Romeine wat sê dat God alles ten goede laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet. In die bruggedeelte van dié lied sê ons: ‘If it’s not good, it’s not over’, want dis die belofte wat die Here vir sy kinders gegee het,” verduidelik De Wet. “Dit was baie prominent op ons harte gewees en het ’n deurlopende tema van die album geword.”
Luisteraars kan uitsien na agt oorspronklike snitte op die album, waaronder sy vorige vrystellings, Praising Jesus en El Shaddai, wat reeds goed ontvang is in geestelike musiekkringe.
Alhoewel hy sukkel om ’n gunsteling te kies, meen hy dat Rock of Ages vir hom ’n besonderse snit is en dat dit beslis gaan aanklank vind by oud en jonk.
“Ons wou hierdie liedjie ’n rock-aanslag gee en dit klink soos geen anders lofprysingsmusiek wat ek gehoor het nie. Dit gaan daaroor om die Here te verheerlik as die kampioen en ek is baie opgewonde daaroor,” deel hy.
Volgens hom, was die lekkerste deel daarvan om die album te maak om saam met vervaardiger, Raymond Green, in die ateljee te sit en lewe te gee aan die visie wat hulle vir die projek gehad het.
Arnold het in Hartbeespoortdam grootgeword en is die seun van die bekend sanger, Jan de Wet. As kind, was hy altyd omring deur musikante wat ook sy passie vir musiek laat vlam vat het. Hy het meer as twee dekades gelede die musiekmark betree met die vrystelling van ’n album, waarna hy vir sewentien jaar sy musiekdroom opsy geskuif het. Dit het eers onlangs weer vlam gevat en na die opname van sy vorige enkelsnit, Run, het sy paaie met die van Inhoud Huis Musiek gekruis.
Buiten vir die beplanning vir die albumbekendstelling, wat tydens ’n groot aanbiddingsgeleentheid later vanjaar gaan plaasvind, probeer hy soveel as moontlik optredes doen om sy musiek te bemark.
“Ek is opgewonde oor hoe die musiekbedryf besig is om op te tel en hoe mense weer na Covid wil bymekaar uitkom en saam kuier. Ons was almal senuweeagtig oor hoe die wêreld gaan wees na die pandemie, maar wat ons geleer het van die menslike natuur, is dat mense altyd bymekaar wil kom en luister na musiek en dis ’n wonderlike ding.”
Dié veelsydige sanger en liedjieskrywer is passievol oor die projekte en werk waarmee hy besig is en wil die publiek aanmoedig om The Shelter te ondersteun.
“Ons is besig om iets op te rig in Afrika en Suid-Afrika wat ons vertrou die Here gaan laat versprei na ander dele van die wêreld, want Hy het vir ons die gereedskap gegee om dit te kan doen. Ons wil graag hê mense moet dit ondersteun en deel word van die span deur ons musiek te luister en deel. Kom ons wys die wêreld wat ons kan doen,” sluit hy af.
EIGHT28 is nou beskikbaar op alle stromingsplatforms. Kry dit hier.
LYS VAN SNITTE
- Praising Jesus
- Eight28
- Rock of Ages
- The great I am
- Let the church rejoice
- Thank you
- Champion
- Bonus: El Shaddai-thank-you-medley
