Giselle Tref Diep Met Eerste Afrikaanse Enkelsnit

Om iemand te verloor vir wie jy lief is, hetsy aan die dood of omdat julle verhouding nie uitwerk nie, kan hartverskeurend wees en jou laat wens dat jy daai persoon nog net een keer kan vashou en waardeer.

Met haar enkelsnit, DIE LAASTE KEER, kry die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Giselle dit nie net reg om hierdie emosie perfek vas te vang met haar sielvolle vertolking nie, maar herinner sy ook luisteraars om hul geliefdes te koester terwyl hulle nog daar is.

Hierdie besonderse popsnit, wat sy saam met Hugo Ludik en Emil Paul geskryf het, het aanvanklik begin as ’n liedjie oor ’n liefdesverhouding wat verbrokkel, maar het verder gegroei en ontwikkel tot iets dieper en meer betekenisvol. Die eindresultaat, wat deur Muse Productions vervaardig is, is treffend en praat met die harte van elkeen wat dit hoor.

Vir my beteken dit ’n mens moet waardeer wie jy in jou lewe het terwyl hulle nog daar is, om die beste van elke oomblik te maak en hulle gereeld te laat weet wat hulle vir jou beteken. Ek het dit gekies omdat dit ’n sterk storielyn het wat jou laat nadink oor die lewe, maar ook omdat dit ’n lekker ritme het wat mense steeds kan geniet tydens ’n dans of kuier,” deel die Wes-Kapenaar oor die inspirasie agter die snit.

Hoewel dié veelsydige musikant reeds ’n paar Engelse enkelsnitte, soos In Another Life, op haar kerfstok het, maak sy haar amptelike buiging in die Afrikaanse mark met DIE LAASTE KEER, en hoop sy dat dit die begin sal wees van ’n opwindende nuwe hoofstuk in haar musiekloopbaan.

Ek het reeds liedjies in verskeie genres uitgebring en gaan ook in die Afrikaanse mark aanhou om vir mense verskillende kante van myself te wys. My eerste Afrikaanse enkelsnit gaan aanklank vind by oud en jonk, omdat elkeen van ons al iemand verloor het en met die boodskap kan vereenselwig,” sê sy.

Giselle is in Bloemfontein gebore, maar het in Pretoria grootgeword. Haar oupa was ’n bekende opera-sanger en sy het van kleins af ’n passie en waardering vir verskeie soorte musiek ontwikkel.

Sy het die musiekwêreld amptelik op 18 betree as lid van ’n rock-metal-groep en daarna die Latyns-Amerikaanse groep Las Chicas, maar het in 2016 besluit om ’n solo-loopbaan aan te pak en haar eie unieke styl te ontwikkel. Iets waaroor sy nog nie ’n dag spyt is nie.

Hoewel musiek haar hooffokus is, het sy ook vir twee jaar film studeer by Oakfield College, haarself in Italiaans bekwaam deur The Italian Institute en opleiding as fiksheidsinstrukteur voltooi by Trifocus Fitness Academy.

Gedurende die Covid-19-pandemie het sy Music Marvel se virtuele International Songwriting Competition gewen, wat vir haar ’n groot hoogtepunt en mylpaal in haar musiekloopbaan is.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, beskryf die sangeres haarself as ’n introvert en familiemens met ’n groot liefde vir diere, veral katte. Verder geniet sy dit ook om fiks en gesond te bly en ’n positiewe impak te hê op die mense rondom haar.

Sy het groot bewondering vir musikante soos Samantha Leonard, Bernice West, Elandré, Elvis se Seun, Riana Nel, Snotkop, Miley Cyrus, Freddie Mercury en Taylor Momsen en sal graag eendag saam met Samantha, Miley of Francois van Coke wou werk.

Giselle het baie planne en drome vir die toekoms, wat meer Afrikaanse musiek en musiekvideo’s insluit. Haar droom is om haar musiek met die wêreld te deel en ’n impak te hê op die musiekbedryf en liedjies soos DIE LAASTE KEER bring haar stap-vir-stap nader daaraan om hierdie doelwit te verwesenlik.

Die snit is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.
Kry dit hier: songwhip.com/giselle-2/die-laaste-keer
Deezer: deezer.page.link/Guwq7V7BAngP4XvK8

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb