Nuwe Logan Pietersen-Enkelsnit Bemoedig Diegene Wat Hulle Land En Mense Mis

As Suid-Afrikaners is ons die afgelope paar jaar deur moeilike tye, wat baie mense genoodsaak het om in ander lande te gaan werk – ver weg van hulle mense, taal en kultuur.

BRING MY TERUG (H2-A), Logan Pietersen se splinternuwe enkelsnit, word opgedra aan almal wat oorsee moet werk en woon om vir hulself en hulle gesinne ’n toekoms te bou.

Die liedjie gaan oor Suid-Afrikaners wat in die VSA moet gaan werk en boer (H2-A of H2-B). Baie van hulle is dan vir 9 tot 12 maande weg van hulle gesinne en families af en doen harde, fisiese werk in ’n vreemde land met ’n ander taal, kultuur en tradisies,” verduidelik die 31-jarige sanger en liedjieskrywer. “Soms werk hulle 38-ure aaneen en verlang hulle na hul mense, sonsondergange in die bos en kampvuur-kuiers.”

Alhoewel dié country-pop-snit diep en nostalgies is, het dit ’n opgewekte ritme en ’n meesleurende melodie wat jou uitnooi om jou hart uit te sing.

Pietersen, wat self die lied geskryf het, is baie trots op die eindproduk wat vervaardig is deur DeeGraaff Productions en verklap dat hy ’n stukkie van die ou volkslied, Sarie Marais, in die koor gebruik het om Afrikanertrots te vier en te beklemtoon en dit het ook die titel van die lied geïnspireer.

“Dit gaan nie vir my oor ras en politiek in ons land nie, maar dit gee vir die mense wat weg werk hoop en moed om hulle beste daar te gee wanneer hulle werk en hulle dae moeilik of donker voel. Dit motiveer ook almal om saam te staan en hande te vat,” sê hy. “Ek wil ook dankie sê vir die groep H2-A-ouens wat geld ingesamel het dat ek hierdie lied kon opneem. Die behoefte was groot en God se genade nog groter, want my droom het waar geword. Net as jy dink jou plan is reg wys God jou die pad wat Hy vir jou het na iets beter.”

BRING MY TERUG (H2-A) is die musikant se derde enkelsnit en volg in die voetspore van 3 Weke en Ex-Probleem wat beide goed ontvang is en vir hom ’n stewige fondasie gelê het om op te bou.

Logan kom van Naboomspruit af en woon tans in Pretoria. Hy is die oudste van drie kinders en musiek was nog altyd sy grootste passie. Hy werk reeds vir meer as ’n dekade in die musiekbedryf en het al talle hoogtepunte behaal, soos om deur te dring na die Top 96 van seisoen drie van The Voice SA en die Top 46 van Maak My Famous.

Tans werk hy hard aan sy musiek en doen hy soveel optredes as wat hy kan. Hy bid ook dat sy nuutste enkelsnit vir hom groot deure sal oopmaak.

Hy sluit af: “Die liedjie gee my hoop en moedig my aan om meer sulke musiek daar buite te sit wat iets beteken vir baie om eenheid te vorm en saam te staan. Ek dink dit gee presies vir die luisteraar wat hy/sy wil hoor en voel want dit het ’n baie sterk boodskap.”

Die snit is nou beskikbaar op alle digitale musiekplatforms en bied ’n stem vir almal wat ver weg van hul huis en geliefdes werk. Dit is nie net ’n lied nie, maar ’n vertolking van die gevoelens en drome van ’n gemeenskap wat saamstaan in tye van verlange.

Kry dit hier: inktr.ee/loganpietersen

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb

1 comment

Comments are closed.