Nuwe Christiaan Baartman-Enkelsnit Moedig Suid-Afrikaners Aan Om Saam Te Staan En Te Floreer

Die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Christiaan Baartman, het nou maar een maal die gawe om musiek te gebruik om ’n kragtige boodskap oor te dra, en sy nuutste enkelsnit is ’n duidelike bewys hiervan.

VIR MEKAAR is ’n inspirerende en hartroerende kreet wat Suid-Afrikaners aanmoedig om saam te staan, hulle eie potensiaal raak te sien en ’n beter land en toekoms te bou vir almal wat hier woon.

Nadat ’n vriend uit Australië die musikant onlangs genader het om die land te verlaat, het hy vir lank met die idee geworstel omdat hy nie geweet het wat die regte ding was om te doen nie. Die liedjie is letterlik gebore in ’n oomblik van klarigheid (3-uur in die oggend) waarin hy besef het dat hy in die land geplaas is vir ’n doel – om te help bou, beskerm, sorg en verenig.

As ek nou weghardloop, hardloop ek weg van my lewensdoel. Daarom sal ek bly,” bevestig Baartman oor die besluit waarmee so baie ander Suid-Afrikaners op ’n daaglikse basis worstel. “Dis ons keuse of ons gaan weghardloop of bly, baklei en saamstaan vir ’n beter môre en toekoms in die land waarvoor ons so lief is.”

Hierdie sentiment word versterk deur ’n treffende musiekvideo wat wys hoe mense regoor die land daagliks op hulle manier bydra tot die groei en ontwikkeling van die land.

Verder kan hierdie besonderse snit ook eersdaags gehoor word as die temalied van ’n betekenisvolle dokumentêr wat deur ’n groot Suid-Afrikaanse kultuurbeweging en ander besighede geborg word om hoop en motivering te saai.

VIR MEKAAR is die sanger se sewentiende enkelsnit in vier jaar en volg in die voetspore van sy jongste vrystelling, Vellies op die Dansvloer, wat baie goed ontvang is.

Christiaan is al vir 18 jaar in die musiekbedryf doenig, het al meer as ’n 100 liedjies geskryf, talle musiektoekennings gewen en al op groot verhoë opgetree plaaslik en oorsee.

Hy het nog baie planne en drome vir die toekoms en voel bevoorreg om elke dag te kan doen waarvoor hy passievol is, in ’n land en taal wat hy onvoorwaardelik liefhet.

VIR MEKAAR sal aanklank vind by almal wat meer wil doen as net oorleef en dra die kragtige boodskap dat dit moontlik is om geluk en vrede te vind in Suid-Afrika, as ons vir mekaar omgee en bereid is om saam te staan.

Die lied beklemtoon dat ons sal saam staan vir wat reg is en nooit sal moed opgee nie,” sluit Christiaan af.

Kry dié enkelsnit nou op alle digitale platforms. Laai dit hier af: linktr.ee/baartman

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb