Joshua Na Die Reën Bring Lig In Verskillende Tale Met Besonderse Nuwe Kersfeesliedjie En Musiekvideo

Joshua na die Reën is enig in sy soort en elke projek wat hy aanpak word op ’n outentieke manier benader. Sy nuutste Kersfeesliedjie en musiekvideo is geen uitsondering nie en beloof om hierdie feestyd ’n vlammetjie van lig en hoop aan te steek in die harte van elkeen wat daarna luister.

DAAR IS LIG is ’n besonderse samewerking met Laerskool Thabazimbi se koor, wat in Afrikaans, Engels en Tswana opgeneem is, met Gideon Botes aan die stuur van sake om ’n merkwaardige eindproduk te verseker.

Die snit is spesifiek vir hierdie opname geskryf en gaan oor die koms van Lig en die vrede wat dit bring.

Ek het so ’n paar jaar gelede saam met Laerskool Thabazimbi se koor gewerk aan ‘Lig op die Horison’ en dit was so ’n spesiale ervaring dat ons ooreengekom het om dit weer in die toekoms te doen. So hierdie lied is spesifiek geskryf vir die samewerking en ons wou graag hê dat dit ’n Kerstema moes hê,” deel hy oor die ontstaan van die enkelsnit. “Daar is ’n tipiese nostalgiese element aan die woorde wat gaan oor families of gesinne wat saamkom en die koms van Lig sien, vier en die emosie daarvan ervaar.”

Wat DAAR IS LIG nog meer besonders maak, is dat dit nie klink soos ’n tipiese Kerslied nie en dat dit dus die heel jaar vir luisteraars iets kan beteken.

Natuurlik verdien ’n spesiale lied soos hierdie ook ’n merkwaardige musiekvideo en die sanger is baie opgewonde om dit vir die eerste keer op Kersdag met aanhangers te deel.

Alhoewel hy nie te veel daaroor wil verklap nie, vertel hy dat die video gaan oor ’n klomp kinders wat hulle drome (op papier geteken) vir hulle onderwyser (gespeel deur homself) gee wat sy bes doen om elkeen ’n realiteit te maak.

Die idee is gebore uit ’n klomp gesprekke wat ek met my broer en die vervaardiger, Jean de Villiers, en juffrou Elmarie gehad het en ons het die meeste van die tonele in die donker geskiet sodat ons met lig as hoof-element kon speel,” verduidelik hy.

Volgens die musikant, is die video op verskillende plekke in Thabazimbi verfilm – waaronder Marataba Safari Lodge – en al het hulle baie warm gekry is hulle baie trots op hoe hulle handewerk uitgedraai het.

Joshua na die Reën werk al vir meer as ’n dekade in die musiekbedryf. Hyhet al talle toekennings gewen, verskeie suksesvolle radiotreffers uitgereik en is tans besig met verskeie opwindende projekte en samewerkings waaroor hy baie opgewonde is. Dit sluit in ’n hoofrol in die rolprent Reisigers wat volgende jaar verfilm word, ’n bewusmakingsveldtog oor die mens se verantwoordelikheid om die aarde op te pas en ’n reeks klere en toebehore saam met die handelsmerk NAVA. Verder is hy ook een van die gesigte van Tapputi Egyptian Perfume Oils se splinternuwe mansreeks wat onlangs bekengestel is.

Sy planne vir die res van die jaar sluit ’n toer van Port-Elizabeth na Stilbaai in, waarna hy saam met sy skoonfamilie gaan kuier in Cape St. Francis.

Om werklik mense se harte te raak, is dié sanger en liedjieskrywer se hoofdoel met sy musiek en met al die projekte wat hy in 2023 aangepak het – en in besonders sy nuutste vrystelling – het hy meesterlik in hierdie doel geslaag.

Kry DAAR IS LIG nou hier: music.apple.com/za/album/daar-is-lig-feat-laerskool-thabazimbi/1710326019?i=1710326196&ls

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb