Geliefde Liedjieboer Stel Nuwe Enkelsnit Bekend

Die legendariese, immergewilde en baie geliefde Suid-Afrikaanse sanger, musiekregisseur en liedjieskrywer, Anton Goosen, is terug in die kollig met ’n splinternuwe enkelsnit wat diep tref.

BLY BY MY, (MY LIEF) – ’n gedig van Antjie Krog wat hy op sy besonderse manier vir die Woordfees getoonset het – is ’n liefdesliedjie in ’n “Afrikaanse sagte blues genre”.

Ons moes vir die Woordfees se huldigingsprogram, Al om Antjie, twee van Antjie Krog se gedigte kies. ‘Bly by my’ is een van haar bekendstes. Daar is ander deuntjies met dieselfde titel en dus het ek dit verander na BLY BY MY, (MY LIEF), maar omdat dit egter nie ’n liriek is nie, het ek die koorgedeelte bygeskryf,” verduidelik die begaafde musikant.

Die enkelsnit is deur Anton en Peter Pearlson vervaardig, met Illimar Neitz, Anton se ghitaarspeler, wat ook insette gelewer het. Dit bevat uitstekende Hammond-orrel- en ghitaarsolo’s deur onderskeidelik Simon Orange en Illimar, met betowerende agtergrondsang deur Lise Swart.

BLY BY MY, (MY LIEF) vorm deel van Anton se nuwe album, Sirkels, wat eersdaags uitgereik word. Die album, wat nege nuwe liedjies bevat – insluitend drie toonsettings en twee duette – is ’n luister-album wat ballades, stories, dans-, protes-, en rock-musiek insluit.

Anton, wat algemeen as die vader van Afrikaanse rock beskou word, is in 1946 in die Karoo gebore en het in Kroonstad grootgeword. Kruidjie-roer-my-nie was sy eerste enkelsnit wat kommersiële sukses behaal het. Sy eerste album, Boy van die suburbs, was ook in 1979 ’n kitssukses.

Oor die jare, het hy meer treffers op sy kerfstok versamel as enige ander Suid-Afrikaner, waaronder Silver de Lange, Boy van die Suburbs, Byeboerwa, ’n Brief vir Simone, Kruidjie-roer-my-nie, Jantjie, Waterblommetjies, Harlekyn, Hanoverstraat, Trein na Matjiesfontein, Ta’ Mossie se sakkie-sakkie boeredans, Geelperskereën, Pampoene oppie dak, Dancer (met Lucky Dube) en vele meer.

Dié lewende legende het al meer as 20 albums uitgereik, die musiek vir verskeie films geskryf – waaronder Die Laaste Tango (2013), ‘n Pawpaw vir my Darling (2015) en Siembamba (2017), asook liedjies vir beroemde kunstenaars, insluitend Laurika Rauch, Carike Keuzenkamp, Richard Clayderman en Koos Kombuis, neergepen.

Hy is ook tydens sy dekades-lange loopbaan as liedjieskrywer en sanger met verskeie toekennings vereer, o.a. Sari’s, Ghoemas, Geraas, Vonk, en dan SAMA-, Innibos-, die FAK-en Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Kuns en Kultuur toekennings vir sy lewenslange bydrae tot musiek. In 2023 is hy een van 5 kunstenaars wat in die South African Gallery of Legends ingehuldig is.

In 2022 het hy sy eie twee reekse vellies, Jantjie en Pasgetroud velskoene , in samewerking met Vellies Boutique bekendgestel. Jantjie was geïnspireer deur sy treffer wat in 1976 deur Sonja Herholdt opgeneem en bekendgemaak is en Pasgetroud vanaf sy album Lappiesland 1985

Anton Goosen: Liedjieboer, sy lewensverhaal wat deur die bekende joernalis Hanlie Retief neergepen is, is in 2020 deur NB-uitgewers uitgereik.

Buiten die uitreiking van sy nuwe album werk Anton vanjaar aan verskeie konsertvertonings. Die filmvervaardiger Niel van Deventer werk tans aan ’n vier-episode dokumentêr oor Anton se loopbaan.

Wanneer hy nie besig is met sy musiek nie, geniet hy tyd – en ’n glasie Kaapse rooiwyn – saam met sy beminde, Estie, en hul vier honde, stappies op die strand, gesprekke met vriende, lees en om reekse op Netflix of Britbox te kyk.

BLY BY MY, (MY LIEF) is ’n meesterlike toonsetting van die werk van ’n besonderse digter deur ’n ikoniese Afrikaanse kunstenaar. Dit is beslis ’n lied wat diep spore gaan laat in die Afrikaanse musiekbedryf, net soos wat Anton al jare lank doen.

Die enkelsnit is nou op alle digitale stromingsplatforms beskikbaar. Laai dit hier af: antongoosen2.hearnow.com

www.antongoosen.co.za

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb