Buiten vir sy aantreklike voorkoms, sjarmante persoonlikheid, kundigheid as oogkundige en vlymskerp besigheidsvernuf, het Tiaan Massyn homself oor die afgelope twee jaar ook bewys as ’n sanger om mee rekening te hou.
Nou is dié veelsydige dertigjarige, wat reeds ’n besige skedule het as die huidige mnr. Suid-Afrika, terug in die kollig met ’n splinternuwe enkelsnit wat diep tref.
GUNSTELING SPYT is ’n indrukwekkende pop-ballade, uit die pen van Ernes Smit, wat delf in die emosionele kompleksiteit van ’n ongesonde romantiese verhouding. Dit skets ’n prentjie van die interne stryd tussen liefde en selfrespek en die dikwels pynlike reis na genesing en aan beweeg.
“Verhoudings wat verbrokkel kan blywende letsels laat. Die liedjie is gebore uit die seer en ontwrigting wat ons almal al ervaar het wanneer so iets met ons gebeur,” verduidelik hy oor die betekenis agter die snit. “Dit is ’n ballade met rou en eerlike lirieke, wat reflekteer op ’n scenario waar jy jouself in ’n liefdesverhouding bevind wat, ten spyte daarvan dat dit ongesond is, net soos verslawing moeilik is om te beëindig. Ek dink baie mense sal daarmee kan vereenselwig, want ek glo die meeste van ons was al in soortgelyke situasies waar ons moes leer, genees en aanbeweeg.”
’n Musiekvideo, wat die boodskap van hierdie emosiebelaaide vrystelling perfek vasvang, is ook nou beskikbaar.
Dit is verfilm deur Winter Trail Pictures se Zander de Beer en speel af by die Atterbury Teater in Lynnwood en in ’n huis waar twee geliefdes saam ’n lewe gebou het.
Die video vertel die storie van ’n vrou wat vrede maak met die einde van ’n eens-belowende verhouding, terwyl sy haar lewe oppak en afskeid neem van ’n gedeelde toekoms.
“Daar is baie verlies aan die einde van ’n verhouding. ’n Mens bou ’n lewe saam en die beeldmateriaal illustreer hoe jy in so ’n geval moet oppak, afskeid neem, genees en weer van voor af begin,” sê hy.
GUNSTELING SPYT is die sanger se derde enkelsnit en volg in die voetspore van Die son kom op en The Crossing – sy verwerking van die Johnny Clegg-treffer wat hy as deel van sy mnr. Suid-Afrika-veldtog gebruik het. Beide liedjies is goed ontvang deur die publiek en het speeltyd op verskeie groot radiostasies gekry.
Wanneer hy nie sing nie, praktiseer hy voltyds as oogkundige by sy praktyke in Centurion en die Weskaap en is hy ook besig om sy jaar as mnr. Suid-Afrika te voltooi.
Hoewel hy self hou van meer ernstige musiek, is hy lus om die somer in te wy met ’n lekker ligte dans- en kuier-liedjie, wat die musiekprojek is wat hy volgende gaan aanpak.
Tiaan se sielvolle vertolking van GUNSTELING SPYT bevestig sy vermoë om harte te raak met sy musiek – net soos wat hy daarna streef om ’n verskil te maak in die lewens van die mense met wie sy pad op ’n daaglikse basis kruis.
“Ek hoop dat hierdie lied ook troos en bemoediging sal bring vir enigiemand wat aan die einde van ’n liefdesverhouding staan en baie seer het om te verwerk,” sluit hy af.
Die enkelsnit is nou beskikbaar op alle stromingsplatforms. Laai dit hier af:
social.tunecore.com/linkShare?linkid=I_kdvpriwCRYJhtJz526xw