Len Muller het onlangs sy nuwe enkelsnit, JY’S OKAY, uitgereik. Die gewilde lied word reeds deur talle radiostasies gespeel, afgelaai op talle platforms en nou is die musiekvideo ook pas vrygestel!
Nadat hy en sy vrou, Chanél Muller, deur ’n moeilike en hartseer tyd gegaan het, het hy JY’S OKAY geskryf in ’n poging om haar en homself te troos in daardie hartverskeurende fase.
Die video is vervaardig deur Jean de Villiers (Jacques van Joshua na die Reën se broer) en is by Len se huis verfilm in die Kaap. Dit sluit tonele van hom alleen voor die klavier én saam met ’n orkes in.
“Jean se talent om ’n baie eenvoudige konsep te laat lyk soos ’n film kwaliteit opname, is regtig besonders. Sy oog is baie kunstig ingestel,” vertel die musikant.
Die konsep van die video is ontwikkel deur Len en Jean, maar Chanél se ervaring in die film- en TV-bedryf, het baie gehelp om die konsep in ’n beperkte tyd en spasie uit te voer.
“Ons het besluit dat die lied baie persoonlik is en daarom wou ons dit ‘close to home’ hou. Om ’n stukkie van my hart te probeer uitbeeld soos wat die lied reeds doen,” voeg hy by.
JY’S OKAY volg in die voetspore van talle groot radiotreffers, waaronder Vrede, wat gebruik is as die temalied vir die kykNET-sitkom, Mense Mense.
Dit is ook die eerste vrystelling vanaf sy komende kortspeelplaat, Arende en Engele, wat later vanjaar uitgereik word en spesifiek geskryf is vir sy vrou en seuntjie.
Sedert die begin van Len se loopbaan, is sy musiek al meer as 2 miljoen keer gestroom op Apple Music en hy is tans besig om aan ’n vollengte album te werk en optredes te reël om sy nuutste musiek met aanhangers te deel.
JY’S OKAY is beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.
Kry dit hier: ditto.fm/jysokay