“Ek dink die titel van die liedjie vang die kern daarvan perfek vas. Dit verwys na daardie spesifieke oomblik wanneer alles in ’n verhouding verander en jy besef dinge is nie soos jy gedink het dit is nie. Dit is ’n eenvoudige, maar kragtige frase wat die draaipunt van die lied perfek beskryf,” sê Gerduan Kemp oor die betekenis agter sy splinternuwe enkelsnit, TOE JY OMDRAAI, waarmee hy die Nuwejaar voorwaar op ’n hoë noot afskop.
Hierdie Afrikaanse poplied is geskryf deur Gerduan en Emil Paul, met Juan (Floors) Oosthuizen as vervaardiger, en vertel ’n storie van liefde en teleurstelling en hoe ons soms mense sien as iets wat hulle nie is nie – soos ’n engel – net om later te besef hulle is net mens.
“Ek dink die lirieke is ’n eerlike refleksie van hoe ons soms te veel van ander mense verwag en vergeet dat almal net mense is met hulle eie foute,” verduidelik hy. “Die liedjie weerspieël nie noodwendig ’n persoonlike ervaring nie, maar meer ’n gevoel waarmee almal van ons kan vereenselwig. Ek dink dis ’n sterk vrystelling omdat die lirieke rou en eerlik is, en dit iets aanspreek wat elke persoon al op een of ander manier ervaar het.”
Die musiekvideo, wat ook nou beskikbaar is, is ’n visueel treffende uitbeelding van verlies en verlange. Dis verfilm in die pragtige Witzands Aquifer Nature Reserve en die woestynlandskap word gebruik as ’n metaforiese agtergrond vir ’n reis deur eensaamheid en hartseer. Die eenvoudige, minimalistiese styl beklemtoon die emosionele rouheid van die liedjie se lirieke. Met Nico Welgemoed agter die kamera en met Gerduan wat self die redigering behartig het, is die video doelbewus geskep om kykers ’n diep persoonlike ervaring te gee, terwyl dit die kontraste van die liedjie – hemel en hel, reën en droogte – visueel versterk.
TOE JY OMDRAAI is die musikant se sewende radiovrystelling en volg in die voetspore van sy 2024-treffers, Koffie in die kroeg en Alles Tot Nou, wat beide goed gevaar het op die treffersparades en met aanlyn stroming.
Sy debuut-album, Sesde Sintuig, wat in 2021 uitgereik is, is reeds meer as 3 miljoen keer gestroom.
Gerduan, wat in Bloemfontein groot geword het en tans in Pretoria woon, is al van skooltyd af passievol oor musiek. Hy het al die verhoog met van die land se grootste kunstenaars gedeel en ’n draai gemaak by verskeie Afrikaanse musiekfeeste.
Buiten vir musiek, is hy ook ’n uitstaande fotograaf en musiekvideovervaardiger met sy eie besigheid, Gerduan Kemp Photo & Film, wat al musiekvideo-projekte vir verskeie bekendes – waaronder Brendan Peyper en Karlien van Jaarsveld – behartig het.
Hy is baie opgewonde oor 2025 en buiten vir nog heelwat nuwe musiek, is daar ook verskeie groot musiekvideo-projekte vir homself en ander kunstenaars in die pyplyn.
TOE JY OMDRAAI is ’n lekkerluister-liedjie wat in jou kop sal vassteek lank nadat jy dit die eerste keer gehoor het. Buiten vir die opgewekte ritme, is die lirieke diep en betekenisvol en sal dit aanklank vind by ’n wye gehoor.
“Ek dink mense gaan daarvan hou omdat die lied rou emosie en eerlikheid vasvang – iets waarmee baie mense kan identifiseer. Dit praat oor liefde, gebreekte harte en die illusie van perfekte verhoudings,” sluit hy af.
Die snit is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.
Kry dit hier: https://linktr.ee/gerduankempmusiek