Niks Kry Hom Onder Nie – Jan Bloukaas Stel Album Vry

Oor die afgelope paar maande het Jan Bloukaas met liedjies soos As Ek Jou Hoor Lag en Sweef, gewys dat hy besig is om sy musiekloopbaan in ’n nuwe rigting te stuur.

Dit het nie net ’n groot opskudding in die bedryf veroorsaak nie, maar ook vir hom heelwat nuwe aanhangers verseker.

Daarom heers daar tans groot opwinding in musiekkringe, want dié begaafde musikant het pas ’n splinternuwe enkelsnit en langverwagte album vrygestel!

HEILIG, die derde enkelsnit vanaf sy nuwe album, VREEMDELING, het hy in 2018 saam met Almero Welgemoed geskryf en dit gaan daaroor dat alhoewel jy dikwels die mooi in jouself miskyk, daar wel iemand is wat dit raaksien.

Dit is my ma se gunsteling en daarom vir my baie spesiaal,” verklap hy oor dié akoestiese snit. “Ek dink die liedjie het ’n lekker wysie en dat mense daarvan gaan hou omdat dit spirituele elemente bevat, al is dit geskryf om ’n liefdesliedjie te wees. Daarom sal dit aanklank vind by ’n groter mark.”

Vir die musiekvideo is die kontras tussen lig en donker gebruik om die woord “heilig” te simboliseer. Johan Vorster van Inhoud Huis Musiek was die regisseur van dié video wat in die ooste van Pretoria deur Daniël Rademeyer verfilm is.

Met dié konsep wou ons die boodskap oordra dat elkeen kan kies waarmee hy sy lewenspad wil verlig,” verduidelik hy. “Ek wou iets heeltemal anders skep as met my vorige video en het daarom ’n rustige liedjie en video gekies. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om deur hierdie liedjie en die video te wys dat ek ook in ander genres kan musiek skep en ek hoop dit word goed ontvang deur die publiek.”

Die kunstenaar is ook baie opgewonde om sy nuwe album met luisteraars te deel. Dit is oor ’n tydperk van drie jaar geskep en handel oor verhoudings en selfontdekking.

Volgens Bloukaas het hy die titel, VREEMDELING, gekies omdat dit die tema die beste saamvat en omdat omstandighede jou van die mense rondom jou kan vervreem.

Hy het die album self vervaardig, met insette van Peach van Pletzen en Ruan Graaff. Peach het ook die finale mengwerk gedoen.

As jy hom uitvra oor sy gunsteling-liedjie, sê hy dat dit onmoontlik is om te kies omdat elke liedjie vir hom besonderse betekenis inhou.

Ek is die dag waarop ek my laaste vyf liedjies in die ateljee sou opneem, met ’n breingewas gediagnoseer. Ten spyte daarvan, het ek besluit om steeds die album klaar te maak voor my behandeling begin het en ek is dankbaar dat ek dit wel kon doen en nog in staat was om ’n musiekvideo ook te maak. Ek gaan later vir nog ’n paar liedjies video’s opneem.”

Jan Bloukaas, oftewel Jean du Plessis, was skaars klaar met skool in 2017 toe hy naam gemaak het met sy liedjie, Kaas Elke Dag, wat soos ’n veldbrand versprei het en gelei het tot ’n platekontrak met Universal Musiek nie.

Sedertdien het hy net van krag tot krag gegaan en spog hy met talle radio- en dans-treffers (waaronder kykNET en Chill, Boerseun en Desember), twee top-verkoper albums (Desember en The Party Starter), ’n platekontrak met Inhoud Huis Musiek en verskeie musiektoekenings.

Dié Kapenaar het ook die treffer, Dans, saam met Early B en Biggy opgeneem, asook die duet, Sterre Brand, saam met Janie Bay. Verder het hy ook al die verhoog gedeel saam met van die grootste name in die bedryf by van die gewildste musiekfeeste en -konserte in die land.

Tans is hy besig met chemo-behandeling vir die gewas op sy brein en werk hy, soos altyd, aan nuwe musiek wat hy in die toekoms met sy aanhangers wil deel.

Ek hoop my album en nuwe enkelsnit word goed ontvang en dat die publiek die nuwe rigting waarin my musiek gaan sal aanhou waardeer,” sluit hy af.

VREEMDELING, waarop HEILIG verskyn, is nou op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://janbloukaas.lnk.to/Vreemdeling

LYS VAN SNITTE OP DIE ALBUM:

  • Raak weg
  • Vreemdeling
  • Sweef
  • Val deur die nag
  • As ek jou hoor lag
  • Vir nou
  • Die donker
  • Skaduwees
  • Heilig
  • Vir eers
Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb