Musiekvideo Vir Melanie J Se Nuwe Geestelike Enkelsnit Nou Beskikbaar

Skaars ’n maand nadat sy haar derde enkelsnit, TWEE IS BETER AS EEN, met radiostasies en luisteraars gedeel het, is Melanie J terug in die kollig met ’n musiekvideo wat net so indrukwekkend is soos die liedjie self.

Dié video, wat nou beskikbaar is, is vervaardig deur Volmaan Lirieke, met DC Daniel as regisseur, en is hoofsaaklik op ’n strand in George verfilm. Melanie J se pragtige trouvideo is verfilm deur Orange Vinyl Studios en dele uit diè video, is gebruik in die musiekvideo.

Omdat die liedjie gebaseer is op haar eie liefdesverhaal en getuienis dat wanneer jy op God vertrou, alles in jou lewe op die ou einde in plek sal val, bevat die musiekvideo ook beeldmateriaal van haar eie troue om dit ’n persoonlike aanslag te gee.

Die idee vir die video is geïnspireer deur my langafstandverhouding en die see is vir my simbolies van die oseane wat tussen my en my geliefde was voor ons troue,” deel sy. “Die boodskap is dat dit nie saak maak hoe ver julle uit mekaar woon nie, die liefde wat julle bind sal altyd bly.”

Dié 21-jarige sangeres, wat haar musiekopleiding by COPA gedoen het en naam gemaak het as wenner van die PACISA-sangkompetisie, is nou al vir drie jaar in die musiekbedryf doenig.

Alhoewel Melanie J grootgeword het in die klein plattelandse dorpie, Ladysmith, het sy nog altyd groot musiekdrome gehad en was sy nog nooit bang om hard te werk om haar drome te verwesenlik nie.

Oor die afgelope paar jaar, het sy reeds verskeie hoogtepunte in haar loopbaan bereik, soos om die nommer een posisie te haal op Bosveld Stereo se top 20-treffersparade met haar liedjie – Verdwaal.

Verder is die veelsydige vrou nie net ’n musikant nie, maar besit ook haar eie boetiek, Mel J’s Boutique & Crafts. Sy beplan ook om later vanjaar na Skotland te emigreer waar haar man, met wie sy onlangs getroud is, en sy familie reeds woon.

TWEE IS BETER AS EEN is deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig en is geskep om vir diegene hoop te bring wat al opgegee het op die liefde.

Die enkelsnit is beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: melaniej.lnk.to/TweeIsBeterAsEen

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb