Musiekvideo Van Petronel Baard En Johan Liebenberg Se Treffer-Duet Nou Beskikbaar

Sedert die vrystelling van die twee merkwaardige musikante, Petronel Baard en Johan Liebenberg, se sielvolle duet, MAG JY, einde 2023, is die musiekwêreld behoorlik aan die gons.

Nie net is dié alternatiewe skepping uit Helena Marais se pen gewild onder Afrikaanse musiekliefhebbers nie, maar dit word ook gereeld gespeel deur groot radiostasies reg oor die land, waaronder Bok Radio en Pretoria FM.

Dit is duidelik dat hierdie verwerking deur Schalk Maas en David Cruickshank, wat Baard beskryf as ’n seënwens en herinnering aan liefde, die verbeelding behoorlik aangegryp het.

So ’n spesiale lied, met so ’n kragtige boodskap, verdien natuurlik ook om verder gevier te word en daarom het die paar besluit dat die tyd reg is om die musiekvideo met aanhangers te deel.

Hierdie besonderse video, wat beslis sal aanklank vind by oud en jonk, is verfilm deur Efpe Senekal en speel af op verskeie uitsoekplekke in Kleinbrakrivier in die Mosselbaai omgewing.

Efpe is regtig ’n goeie storieverteller met films, veral ook musiekvideo’s wat in ’n kort tydjie ’n liedjie se boodskap visueel moet oordra,” sê Petronel.

Die tema van die lied is geïnspireer deur die geboorte van Helena se vriendin se dogter en hoe spesiaal dit vir haar was om te aanskou hoe ’n nuwe lewe die wêreld inkom; met al die moontlikhede en uitdagings wat nog voorlê. Hierdie konsep is ook vir die video gebruik.

Twee seuntjies, regtig maats in die regte lewe, baljaar rof en lekker in die modder en see, kamp en help mekaar op waar hul klouter op ’n treinbrug, braai malvalekkers om die vuur en baljaar ordentlik soos net kinders kan. Dit word gekombineer met my en Johan, wat in ’n mooi ateljee-omgewing sing,” verklap sy. “Die boodskap word onderskraag dat die lewe, gebore uit kinderherinneringe van vriendskap, ondersteuning en samesyn, nooit weggaan nie en dat ’n mens aanhou goeie wense wens vir diegene vir jy omgee.”

Petronel Baard, ’n passievolle kabaretster met ’n strelende storievertellerstem, het oor die afgelope vyf-en-twintig-jaar reeds diep spore in die musiekbedryf kom trap en is al met talle toekennings vereer. Wanneer sy nie sing nie, werk dié veelsydige vrou ook as mentor vir ATKV-Crecsendo en vervaardig haar eie verhoogproduksies, wat by groot kunstefeeste opgevoer word. Tweeluik, ’n lieflike woordkuns- en musiekreis saam met die skrywers Chanette Paul en Jan van Tonder asook die sangeres Alzanley, sal op 23 en 26 Maart by KKNK te sien wees.

Johan Liebenberg het in 2004 sy buiging op die Barnyard-verhoog gemaak as kitaarspeler, maar sy sangtalent is gou ontdek waarna hy in 2009 genader is om Niel Diamond- en Céline Dion-huldeblykvertonings te doen. Oor die jare, het hy nie net saam met verskeie musikante gewerk op hulle en sy eie albums nie, maar ook die verhoog gedeel met talle bekendes. Vanjaar sal hy ook deel wees van die vermaak op die gewilde Bokboot.

Op aanvraag en aanmoediging van die publiek, span Petronel en Johan op 16 April 2024 kragte saam vir hulle heel eerste lewendige vertoning saam, getitel Nana & Friends. Tydens hierdie opwindende konsert, sal hulle musiekinvloede, in ’n intieme teater-omgewing, met kitaar en klavier besing word. Musiek van Nana Mouskouri, Piaf, Keith Urban, Leonard Cohen, asook heelwat oorspronklike werke sal opgevoer word, waaronder ’n akoestiese weergawe van MAG JY. Saam met Schalk Maas op die mondfluitjie, beloof dit om ’n baie besonderse aand te wees.

Kaartjies is beskikbaar op Die Boer se webwerf by www.dieboer.com.

MAG JY is nou op alle digitale stromingsplatforms beskikbaar. Kry dit hier: petronelbaard.hearnow.com/mag-jy

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb