Bederf Jou Ma Op Moedersdag Met ’N Sensasionele Vertoning Deur Die Splinternuwe Mansduo, Bella Voz

Om ma te wees, kom met tonne uitdagings en verpligtinge. Daarom verdien elke moeder om ten minste vir een dag haar sorge opsy te skuif en te ontspan.

As jy nog kop krap oor hoe om die spesiale vrou in jou lewe op Moedersdag te bederf, het Hoezit Samelewing se Francois Boyce en die bekroonde kunstenaar Lee Burg vir jou die perfekte oplossing!

Hierdie twee begaafde musikante het onlangs kragte saamgespan om die sensasionele mans-duetgroep, Bella Voz, te begin wat beloof om gehore van alle ouderdomme te bekoor.

Op Sondag, 12 Mei 2024, bied hulle ’n baie spesiale Moedersdagvertoning aan by die Centurion Teater in Gauteng.

Gedurende hierdie opwindende konsert, wat om 16:00 begin, gaan hulle aanhangers betower met hulle dinamiese verhoogteenwoordigheid, veelsydige musiektalent en harmonieuse stemme.

Konsertgangers kan uitsien na ’n ligte klassieke herlewing van ou gunstelinge soos Country Roads, The Winner Takes It All, The Rose, Ou Karoo en Time To Say Goodbye, asook nuwe verwerkings en pragtige solo en gesamentlike klavierspel.

“Hierdie vertoning gaan vir jou voel soos ’n heerlike Top Deck-sjokolade. ’n Klassieke- en pop-stem wat bymekaar kom om jou op ’n musikale reis te vat na bekende musiek. Maar met elke stuk musiek is daar iets spesiaals van ons daarin. Van die verwerking, tot die vertolking is eie aan Bella Voz. Jy gaan na elke lied vra vir nog,” verklap Boyce oor wat mense van die vertoning kan verwag.

Dit is die duo se tweede amptelike vertoning saam en hulle beplan om later vanjaar ook ’n draai te maak by Die Blou Hond in Pretoria, Drosdy Teater in Stellenbosch en ook Swellendam.

As jy nie die perfekte geskenk kon kry nie, kan jy ’n draai maak by Taputti Egyptian Perfume Oils se uitstalling, sodat jou ma sommer self kan kies waarvan sy hou.

Een gelukkige ma wat die vertoning bywoon staan ook ’n kans om ’n lieflike prys ter waarde van R6 000 van hierdie parfuum-olieverskaffer te wen en kan Hoezit Samelewing op Facebook dophou om te sien hoe hulle hiervoor in aanmerking kan kom.

’n Heerlike buffetete is ook beskikbaar by die teater se restaurant, The Rehearsal Room Eatery, teen R150 per persoon en besprekings kan gedoen word by [email protected].

Kaartjies vir die vertoning kos R200 per persoon en kan op www.quicket.co.za gekoop word.

Vir meer inligting, besoek www.centurionteater.co.za.

Hierdie unieke vertoning is die perfekte manier om vir jou ma te wys hoe spesiaal sy is. Moet dit nie misloop nie!

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb