Die gewilde akteur, entrepreneur en skrywer, Hykie Berg, is baie opgewonde om aan te kondig dat sy splinternuwe boek, GEROEP VIR MEER – OM SUKSESVOL TE LEWE, vanaf 27 September op die rak sal wees.
Hierdie inspirerende publikasie verklap wat Berg – wat onlangs benoem is vir ’n Silwerskerm- en SAFTA-toekenning –oor die afgelope twee dekades oor sukses en hoe om dit te bereik geleer het.
Dit vorm deel van hom en sy vrou, Gerridene, se visie om in die volgende vyf jaar 100 nuwe miljoenêrs te skep en gesinne weer saam te bring deur ouers te help om van die gejaagdheid van die lewe te ontsnap.
In die boek deel hy diep insigte oor die beginsels van ’n suksesvolle en betekenisvolle lewe. Hy het dit geskryf vir dié wat gereed is om ’n kans te waag, in geloof te wandel en hul lewenskoers te verander.
“Dit is vir elkeen wat weer hoop wil hê en werklik suksesvol wil leef,” sê hy. “Die boek bied die riglyne vir mense wat bereid is om aksie te neem, uit hul gemaksone te tree, en hulle vrese in die gesig te staar.”
NB-Uitgewers, wat die trotse uitgewers is van hierdie knap stukkie werk, voeg by: “Ons is baie opgewonde oor Hykie se derde boek en glo dit gaan baie mense help om te beweeg van ’n gemiddelde na ’n uitstekende lewe.”
Volgens Berg was die skryf van die boek ’n intense ervaring: “Dis ’n onbeskryflike gevoel. ’n Mens voel trots, maar ook ’n bietjie bangerig, want ek hoop dat dit mense se lewens sal verander en ’n impak sal maak. Dis soos die opening van ’n teaterproduksie – jy is verskriklik senuweeagtig, maar terselfdertyd kinderlik opgewonde.”
Die hoofstuk waarin hy oor sy vriend en mede-akteur, Erik Holm, skryf is beslis sy gunsteling. “Al is Erik in ’n rolstoel, vermag hy meer as 90% van mense wat ek ken. Ek wou al lankal oor hom skryf. Hy is nie net ’n dierbare vriend nie, maar een van die interessantste mense wat ek ken. My hoop is dat hierdie hoofstuk mense sal laat besef dat hulle tot baie meer in staat is as wat hulle dink.”
Hykie woon tans in Johannesburg en het buiten vir sy toneelspel ook naam gemaak vir sy deelname aan Survivor Maldives – die fase van sy lewe waarin hy self tot bekering gekom het.
Sedertdien het hy verskeie suksesvolle projekte aangepak en is vandag nie net ’n bekroonde akteur en TV-aanbieder nie, maar ook ’n internasionale spreker, ’n suksesvolle entrepreneur en ’n topverkoper-skrywer.
Sy vorige boeke sluit in My Storie van Hoop, Ultimate Survivor (die Engelse vertaling van My Storie van Hoop) wat met die Andrew Murray Desmond Tutu-prys bekroon is, en My Stryd met ADHD–Die Onsigbare Oorlog. In die boeke praat hy onbeskaamd oor sy uitdagings met sy heroïen verslawing en sy geestes ongesteldheid.
Hy is ook die ambassadeur van Creative Kidz, ’n skool wat remediërende onderwys en ondersteuning bied aan kinders met leeruitdagings.
Met GEROEP VIR MEER – OM SUKSESVOL TE LEWE herinner Berg, wat nog nooit gehuiwer het om openlik oor sy uitdagende verlede te gesels in ’n poging om ander mense se lewens te verander nie, lesers dat hulle gebore is om groot dinge te vermag.
“Mense aanvaar te maklik om tweede beste te wees. Jy is geskep vir grootsheid! Maak nie saak waar jy vandaan kom of wie jou ouers is nie, hierdie boek sal jou help om ’n droom vir jou lewe te skep en dit te bereik,” sluit hy af.
Moenie die kans misloop om jou eie lewe te verander met hierdie transformerende lees-ervaring nie.
Die boek is vanaf 27 September 2024 beskikbaar en kan reeds bestel word by: bit.ly/GeroepVirMeer of by uitgesoekte boekwinkels reg oor die land