Sharine Barnard En Kletsrymer, Joel Parker, Span Kragte Saam In Filosofiese Liedjie Oor Die Liefde

Niemand weet regtig vooraf hoe die liefde gaan uitwerk wanneer jy jou hart verloor nie. Soms is dit is ’n morsige situasie wat harte breek, en ander kere verbaas dit jou.

Dit is juis hierdie onvoorspelbaarheid wat Sharine Barnard, wat bekend is vir haar diep filosofiese musiek, se nuutste enkelsnit, WHILE YOU LOVE SOMEBODY ELSE, geïnspireer het.

Liefde en lief wees vir iemand het goeie en slegte elemente. Om lief te hê en geliefd te wees, is twee van die belangrikste dinge wat ons as mens ervaar en wat ’n groot rol speel in wie ons is,” verduidelik sy. “Soms gebeur dit dat jy lief is vir iemand wat nie dieselfde voel nie – dit is deel van grootword en die leerskool van die lewe. Ons almal beleef verskillende aspekte van liefde op verskillende tye. Liefde is maar net wat dit is.”

Hierdie snit, wat sy self geskryf en saam met André de Jager vervaardig het, het oorspronklik begin as ’n ballade oor die verskillende aspekte van liefde.

Omdat sy baie betrokke is by haar eie en ander tieners se lewens, kry sy gereeld te doen met gebreekte harte en die emosies wat daarmee gepaard gaan en WHILE YOU LOVE SOMEBODY ELSE is gebore uit hierdie jongmense se gesprekke oor en ervarings van liefde.

Die besluit om die snit om te skakel van ’n ballade na ’n liedjie wat elemente van R&B en kletsrym kombineer, het spontaan in die ateljee gebeur toe sy besluit het dat sy haar hand aan iets anders wou waag as die gewone. Joel Parker, ’n kletsrymer wat André aan haar voorgestel het, het onmiddellik verstaan wat graag wou bereik en die res is geskiedenis! Inteendeel, hulle het so lekker saam gewerk dat hulle beplan om nog ’n paar liedjies op te neem.

Wanneer jy die liedjie begin luister, dink jy dit gaan ’n rustige liefdesballade wees. Maar dan kom Joel in met sy ‘magic’ en skok jou. Dis ’n mooi liedjie, met ’n eenvoudige melodie en ’n lekker ritme, wat ’n storie vertel waarby oud en jonk sal aanklank vind… en wanneer die kletsrymgedeelte begin gaan jy beslis die radio wil harder sit,” sê Barnard.

WHILE YOU LOVE SOMEBODY ELSE is haar agtste enkelsnit en is deel van tien liedjies wat op haar nuwe album, Words fail me (Part 1), gaan verskyn wat later vanjaar beskikbaar sal wees.

Sharine het Jan Kempdorp grootgeword. Alhoewel sy altyd mal was oor musiek, het sy eers in grendeltyd besluit om haar musiekdroom ’n kans te gee en sover is haar werk nog net goed ontvang.

Buiten vir haar liefde vir musiek, is hierdie veelsydige vrou – wat die eienaar is van Bagamoya Wildlife Estate – ook passievol oor diere en bied ’n veilige hawe vir leeus, ape, en selfs ’n tier.

Sport en gesondheid is ook vir haar belangrik en tans en is sy besig om voor te berei vir die Suid-Afrikaanse driekamp- en tweekamp-kampioenskappe. Sy is ook eienaar van ’n Osoonterapie-kliniek – Ozone Clinic – wat tans besig is om ’n transformasie te ondergaan om kliënte te help met gesondheid, sportprestasie, sportsgenesing en ander opwindende elemente.

Musiek was nog altyd ’n integrale deel van wie Sharine is en sy gebruik dit tot vandag toe nog om haar gedagtes te deel en mense se harte te raak.

WHILE YOU LOVE SOMEBODY ELSE is nie net ’n perfekte voorbeeld hiervan nie, maar ook ’n lekker voorsmakie van die grensverskuiwende werk wat ons in die toekoms van haar kan verwag.

Die liedjie is nou aanlyn beskikbaar. Kry dit hier:

music.apple.com/za/album/while-you-love-somebody-else/1734247400?i=1734247414

Published in
Categorised as music

By Andrew Germishuys

Founder of SAMDB | Actor | Armourer | Tech Enthusiast With over two decades in the film industry, I'm a seasoned actor and skilled armourer. I hold numerous certifications in acting and filmmaking, complemented by degrees and diplomas in IT and technology, giving me a unique blend of creative and technical expertise. When I'm not on set or in the workshop, you'll find me immersed in the world of gaming and VR, fuelling my passion for cutting-edge technology. Connect with me: X / Twitter Facebook Instagram Mastodon Threads Explore my work on SAMDB IMDb